GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 15-20 min.
15 ml (1 e) olyfolie
1 ui, gekap
300 g spinasie, afgespoel en grof gekap
150 g ricottakaas, gekrummel
2 wiele fetakaas, grof gekrummel
2 knoffelhuisies, fyngedruk
skil van 1 suurlemoen
en 45 ml (3 e) -sap
sout en vars gemaalde peper
250 g filodeeg
60 ml (¼ k) botter, gesmelt
30 ml (2 e) papawersaad
Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ’n bakplaat.
- Verhit die olie en braai die ui tot goudbruin. Voeg die spinasie by en roerbraai tot verwelk. Skep in ’n mengbak en laat ’n bietjie afkoel.
- Meng die ricottakaas, fetakaas, knoffel, suurlemoenskil en -sap deur die spinasiemengsel. Geur met die sout en peper na smaak.
- Sny die filodeeg in 10 cm breë stroke. Skep van die vulsel in een van die hoeke en vou om in ’n driehoek. Vou tot amper heel bo, verf die boonste deel met botter en vou toe. Herhaal met die res.
- Verf met botter en sprinkel die saad oor. Bak 10-15 min. Sit voor met suurlemoen.