Dit is maar bloot `n feit van die lewe dat 2de en 3de kinders nooit soveel kinderpartytjies gaan hê soos die 1ste nie. Jou oudste kind se eerste verjaarsdag, veral as hy nog boonop die eerste kleinkind is, is mos `n groot affêre.
Diè proses herhaal hom dan jaarliks tot die 2de kind verskyn. Dan voel `n moeder mos dat jy nie die nuwe kind kan afskeep nie en jy hou nog groot partytjies. Teen die tyd wat ons 3de verskyn het, was dit nou nie meer snaaks nie. Boonop besef jy mettertyd dat partytjies vir die kinder seers so na ouderdom 4 begin lekker raak.Nou is my reël dat daar net een tamaai produksie per jaar is, dus `n groot partytjie vir elke kind elke 3de jaar.
Hierdie jaar was dit Ethan, ons 2de kind, se beurt vir sy 5de verjaarsdag.
Ethan Munro Guy, my liefie kind met stoutgat skrefie ogies en ronde boudjies, net soos sy mamma.
Ethan het homself Ethan-saurus herdoop. Sy kamer is vol dinosourusse in elke vorm. Hy rammel alle tipe dinosourus se name af en noem feite wat `n moederhart trots maak. Groen is sy gunsteling kleur so `n groen fluweel koek met dinosourus eiers was sy keuse. Ek het bloot die Rooi Fluweel Koek uit ons boek, Koeke ter Viering van Liefde, gebruik en die rooi kleursel vervang met groen.
Plaatkoek is weer hoogmode. Maklik, vinnig en stylvol. Jy kan dit sommer in die pan bedien of op `n houtbord.
Ek het `n haselneut sjokolade koek, `n piesang-en-pretzel, `n Bahameense Rumkoek ( met `n ekstra skeutjie rum) gebak. Almal van diè was maklike aanpassings uit Koeke ter Viering van Liefde en Lewe.
Die groot gunsteling van die dag was die naartjie-koek.
Naartjie Koek
2 k ( 280 g) meel
1 e ( 15 ml) bakpoeier
`n knippie sout
4 eiers, by kamertemperatuur
2 k ( 400 g) suiker
1 t ( 5 ml) vanieljegeursel
120 g botter
1 k ( 250 ml) melk
Voorverhit die oond tot 180C. Smeer en voer `n 36×24 cm oondpan uit.
Sif die meel, bakpoeier en sout saam.
Klits die eiers en suiker tot liggeel. Voeg doe meel mengsel by die eier mengsel en roer die vanielje geursel by. Bring die botter en melk tot kookpunt in `n klein kasrol en voeg dit dan stadig by die beslag terwyl jy liggies roer.
Giet die beslag in die voorbereide pan en bak vir 35-40 minute, of tot die koek terugwip wanneer jy die middeel liggies druk. Giet met die warm naartjie sous.
Naartjie Sous
125 g botter
1 k ( 200 g) suiker
1/4 k ( 65 ml) water
1/2 k naartjie sap
Smelt die botter en suiker in die water in `n klein kasrol. Bring tot kookpunt, verwyder van die hitte en roer die naartjiesap by. Giet oor die warm koek.
Naartjie-botterversiersel
125 g sagte botter
1 1/2 k ( 210 g) versiersuiker, gesif
2 e ( 30 ml) melk
1 druppel lemoengeursel
gerasperde skil van `n naartjie
Plaas die botter in die mengbak van `n elektriese menger, genruik die menger se spaan-hegstuk en klop tot lig van kleur en romerig. Voeg die versiersuiker en die helfte van die melk by. Klits tot gemeng. Voeg die lemonegeursel en naartjie-skil by. Indien die mengsel te ferm is, voeg die res van die melk by en klits tot die verlangde dikte bereik word.
Callie het sy bekende meellose, gluten-vry, zero karbohidraat wonder koektoebroodjies gebak en soos gewoonlik my gunsteling Pimm’s cups vir my gaste gemaak. Hy is die koning van mengeldrankies. Ek vertrou hom met my lewe om elke geleentheid iets prettig op te tower.
Kliek hier vir die koektoebroodjie resep.
Daar was darem ook nie net soetgoed nie. Ek het `n massiewe roosmaryn brood gebak en bedien met beetpuree en heerlike spekkonfyt ( altyd `n groot treffer). Kliek hier vir die resep wat ons vir Checkers gedoen het.
Beide die tamatie gebak met kaasskon-bolaag en die murgpampoen dill pastei was groot treffers en is uit ons boek, Onthaal op Groot Skaal.
Alle fotos hierbo is geneem deur die talentvolle jong Courtney Pedersen van Hirt&Carter.
Ethan se verjaarsdag is 13 Augustus, dieselfde datum waarop ons neef Munro jare gelede gesterf het. Daarom dat ons Munro as sy tweede naam gegee.
Munro het ons te vroeg gegroet. Pragtig, prettig, musikaal met `n grootse persoonlikheid. Geen familie is ooit weer dieselfde na `n kind se dood nie en dit sou baie jare wees voor die Coetzee broers en susters weer hulle ou self bymekaar kon wees. Die Coetzee familie is kronies bymekaar, ons vier alles en sommer niks ook. My ooms en ma en haar suster sing lawwe ou songs, maak of hulle die Briels is met hogere note en die liefde vir almal se kinders is seker ons familie se grootste talent. Almal lief almal sin. Want sien ons is familie.
Maar daai ou ding van tyd maak dit beter is eintlik omgekeerd. Ons mis Munro meer by elke troue, elke kleinkind se doop. Sy nageslag is uit ons familie boek geskeur. Alles het verander, my liefling niggie is nou `n alleenkind, my energieke borrelende tannie dra vir altyd `n aura van hartseer.
Met elke kuier om haar lekker koek-en-tee tafel het ons almal iewers `n alleen oomblik nodig. Callie en Munro het altyd baie na mekaar gelyk. Nou is Callie pa van 2 en Munro verewig in sy 20`s gevries in ons harte.
My seun, Ethan Munro Guy, is gebore op die uur wat Munro White gesterf het. Toevallig? Ek glo nie.
Ethan-saurus is n unieke seuntje met sy eie eienskappe, maar soms wil ons ons verbeel is n stukkie neef in hom. Ondeund met `n heeslaggie.